Die Boog van ’n Nuwe Begin
- ferdiepostexco3
- May 11
- 2 min read
Lizay Mouton en Lianke Steynberg
Welpie perspektief: Die dag waarvoor ek so lank gewag het, het uiteindelik aangebreek. Daar was ’n mengsel van opgewondenheid en senuwees in die lug. Toe ek die eerste dag van ontgroening begin het, het almal nog soos vreemdelinge gevoel – onseker en nuuskierig oor wat vir my voorlê. Ek het begin met wolfoortjies, fopspene en ‘n baie skaam glimlag. Ek het nie geweet of moet ek sit, staan of weer die "Monkey" doen nie. Toe ek my kleurbaadjie vir die eerste keer aantrek, het my hande effens gebewe.
Die dae wat gevolg het, was ook nie altyd maklik nie. Tog het daar ’n gevoel begin groei dat ek deel word van iets groter was – ’n nuwe skoolfamilie. Op die dag van die seremonie het ek saam met my maats, ouers en onderwysers bymekaar gekom. Ek het baie foto’s geneem om die dag te dokumenteer, sodat ons hierdie spesiale oomblik altyd kan onthou.
Toe ek vorentoe stap, het ek vir mnr. Morné se hand geskud. Op daardie oomblik het ek dadelik welkom gevoel, asof ek regtig deel geword het van die skool. Al die spanning wat ek vroeër gevoel het begin verdwyn. Die skaamheid en onsekerheid het plek gemaak vir trots en blydskap. Ons het gelag, gesels en die oomblik saam geniet.
Dit was sonder twyfel die beste gevoel ooit. Wat vroeër vreemd en ongemaklik gevoel het, het nou verander in iets besonders wat ons altyd sal onthou.

VRL-perskeptief: Die boogseremonie vir Hoërskool Ferdinand Postma se graad 8-leerders was een van die merkwaardigste dae van hulle skoolloopbaan. Dit was die dag waarop die welpies amptelik deel geword het van die Ferdie-familie.
As ‘n VRL-lid was dit vir my ‘n baie spesiale geleentheid om die seremonie by te woon. Die opgewondenheid in die lug was tasbaar en dit was duidelik dat hierdie oomblik vir almal betekenisvol was. Elke graad 8-leerder was geklee in hulle formele skoolklere, met ‘n gevoel van trots en dalk ‘n bietjie angs.
Tydens die seremonie het elke graad 8 die geleentheid gehad om die skoolklok te lui, hulle handtekeninge in ‘n boek te skryf en ‘n kers aan te steek. Hierdie kers dien as ‘n simbool van die nuwe fase wat hulle by Hoërskool Ferdinand Postma begin – ‘n fase van groei, leer en pret.
Die ouers het as trotse toeskouers beleef hoe hulle kinders ‘n nuwe hoofstuk in hul lewens begin. Dit was duidelik dat hierdie oomblik spesiaal was vir die hele familie.
Dit was ‘n eer om die geluk en opgewondenheid wat in daardie oomblik gevoel is, te kan beleef. Die boogseremonie is nie net ‘n tradisie nie, maar ‘n simboliese seremonie van ‘n nuwe begin – met nuwe vriendskappe, drome en nog baie herinneringe.








